Beleggingsgeleenthede

Op ons onlangse beleggingsaanbieding aan kliente en voornemende beleggers het my kollega Leon Mostert in breë trekke  na beleggingsgeleenthede gekyk. Daar is  drie hoof kategorieë waarin mens beleggings kan verdeel nl rentedraende beleggings, versamelaarsitems en dan produserende bates.

Rentedraende  beleggings sluit in goed soos bankdeposito’s, staats- en korporatiewe effekte en geldmarkfondse. Jy kan seker selfs so ver gaan en huislenings ook hierin kategoriseer asook deelnemingsverbande.

Hierdie tipe belegging word  as veilig beskou, maar met voorbelaste  koerse in die geldmark op 5.5% en inflasie bo 6% moet ons weet dat hierdie belegging eintlik die mees gevaarlike belegging is wat jy kan maak omrede jy uit die staan spoor geld teenoor inflasie verloor en dus verarm. Anders gestel sal ek dit wil noem dat `n belegging in bv die geldmark op die stadium roekeloos konserwatief is. Dit was ook so oor die afgelope tien jaar.  Die gemiddelde inflasiekoers het sedert Januarie 2000 5.8% beloop. Die geldmark koers toe was 9.2%, wat dus beteken dat `n belegger toe R7 600 p.m. voor belasting op `n belegging van R1m sou verdien het. As ons die bedrag vir inflasie aanpas dan moes jy nou R14 890 p.m. verdien het, net om jou koopkrag te behou het. Vandag is geldmarkkoerse 5.5%, wat op sy beurt beteken dat as jy teen 5.5% rente wat jy vandag op die geldmark kan verdien, `n maandelikse inkomste van R14 980 wil verdien, jy `n kapitaalsom van R3.3 m sal moet hê. Jy het egter steeds net R1m in die bank en sou jy wesentlik verarm het.  Jy moes egter `n opbrengs van 10.4% per jaar behaal het net om met inflasie en rentekoers bewegings tred te gehou het.

Staatseffektekoerse in die wêreld en veral Amerika het oor die afgelope paar jaar skerp gedaal en groot kapitaalwinste tot gevolg gehad soveel so dat daar eintlik borrel toestande in daardie mark teenwoordig is. En soos met alle borrels in die verlede wil niemand die gevaartekens raak sien nie en kan Amerikaanse staatseffekte wat as risiko vry gesien kan word nou beskryf word dat dit opbrengsvrye risiko’s sal lewer.   

Dan is daar versamelaarsitems. Dit is `n belegging wat nooit iets sal produseer nie en word gekoop met met die “hoop” dat iemand – wat ook weet dat die bate nooit iets sal produseer nie – dit sal koop vir “meer” iewers in die toekoms .  Hierdie tipe belegging benodig ‘n alom uitbreidende populasie van beleggers en kan maklik omsit in `n borrel.

`n Voorbeeld hiervan was die tulpe borrel in die 1600’s in Holland. Toe is `n enkel bol verkoop vir soveel as 10 keer die jaarlikse inkomste van `n gekwalifiseerde ambagsman. Trouens, jy kom op die hoogtepunt van hierdie manie een Semper Augustus bol koop vir `n bedrag geld gelykstaande aan die prys van vyf hektaar grond. Die borrel het gebars en baie mense het baie seer gekry.

Goud  is `n uitstekende voorbeeld van `n versamelaarsitem. En dit word hoofsaaklik gesien as `n veilige hawe vir beleggers.  Warren Buffet het in sy 2012 brief aan aandeelhouers die volgende uitgewys.:

  • Vandag se totale voorraad goud is ± 170 000 ton
  • As alles saamgesmelt moet word sal dit ‘n kubus uitmaak met sye van 20,73 meter per sy – amper ‘n kwart van Loftus Versfeld .
  • Teen $1 700 per ons sal die waarde daarvan $9,3 triljoen wees
  •  Vir die bedrag kan jy al Amerika se landbougrond opkoop (400 miljoen hektaar wat ’n jaarlikse opbrengs van ongeveer $200 miljard lewer) plus 16  Exxon Mobil’s (wêreld se mees winsgewende maatskappy wat ongeveer $40 miljard wins per jaar per Exxon lewer). Boonop sal jy na die aankope nog $1 triljoen se kleingeld oor hê.

Dit vat nogal baie oortuiging om met hierdie stel feite wel in goud te belê.

Maar dit bring ons by die derde kategorie nl. beleggings in produserende bates. Dit is bates wat die vermoë het om met min nuwe kapitaal in inflasionêre tye, opbrengste te lewer wat tred hou met inflasie.  Voorbeelde is maatskappye soos Apple, Tesco, MTN, Coca Cola, Vodacom, SAB Miller of dan eiendom wat huurinkomste kan lewer.  Besighede sal vir altyd daarna streef om op  ‘n  winsgewende basis goedere en dienste te lewer aan verbruikers . Metafories kan ons verwys na hulle as …. kommersiële “koeie” wat sal bly “melk” produseer en gemeet word aan kapasiteit om “melk” te kan lewer op ‘n winsgewende basis!       

 

Publication: Rapport

Author

Dawie Klopper

Dawie Klopper

Archive